Publiek moet opdok vir Outa se futiele vete teen SANRAL

Vusi Mona

Dit is Wayne Duvenage se eie keuse en goeie reg om gekant te wees teen e-tolpaaie in Gauteng, om ‘n organisasie soos Outa te stig en geldelike donasies van die publiek te bedel om sy vete teen SANRAL te finansier.

Maar hy het geen reg om die feite te verdraai nie en die waarheid te verswyg, veral as dit gaan oor hofsake waarin die land se regsprekende gesag keer op keer ten gunste van SANRAL beslis het.

Sedert Maart 2012 het verskeie regsgedinge oor wye aspekte van die Gauteng snelweg verbeteringsprojek (GSVP) voor verskeie howe gedien. Ses howe het hieroor beslis en nie minder nie as 17 regters het uitsprake gelewer. In slegs een geval is daar teen die regering (insluitend SANRAL) beslis – en hierdie beslissing van Regter Prinsloo in die Pretoria hooggeregshof is op appèl deur die grondwetike hof tersyde gestel.

In voetbalterme is dit vyf doele vir die GSVP teenoor een vir Duvenage en sy geesgenote – en selfs hierdie doel is met die ‘kykweer’ ongeldig verklaar.

Kom ons kyk, voorlopig, net na die regspunte waarop Outa en ander reeds die GSVP in die hof beredeneer het, en waar die uitsprake nie in hul guns van beslis is nie. Ongelukkig blyk dit dat Duvenage nie graag hierdie feite aan die publiek wil deurgee nie.

Duvenage versprei die onwaarheid dat die hof nog nie beslis het oor die wettigheid van die e-tol besluit nie. Dalk is dit omdat hy nog nie die uitsprake gelees het nie, of dalk is dit omdat hy nie die inligting aan sy befondsers wil erken nie.

Inderwaarheid, is daar in die uitspraak van die Grondwetlike Hof in Augustus 2012 waarin Regter Prinsloo se uitspraak omgekeer is, is die volgende bevind: “… die verantwoordelikheid om te bepaal hoe openbare bronne aangewend moet word lê in die hartland van die uitvoerende gesag se funksies en domein. In die afwesigheid van enige bewyse van onwettigheid, bedrog of korrupsie is dit die eksklusiewe mag en prerogatief van die uitvoerende gesag om beleid te ontwikkel en uit te voer rakende die finansiering van openbare projekte, onderhewig aan die begroting van die Parlement.”

Nodeloos om te sê dat die verskillende howe derduisende bladsye dokumente ondersoek het en dat Outa wat deur senior regslui verteenwoordig is, nog geen bewyse van onwettigheid, bedrog of korrupsie by SANRAL kon vind nie. In teenstelling met Outa, is SANRAL se bedrywighede in die openbaar en ontvang hy jaar na jaar ongekwalifiseerde verslae van die ouditeur-generaal.

In ‘n volgende saak het regter A J Vorster Outa se aansoek vir ‘n hersiening van die prosesse wat gevolg is vir die implementering van die GSVP as ‘n tol projek in die Pretoriase hooggeregshof met koste verwerp. Die hof het aanvaar dat een van Outa se lede – SAVRALA – reeds in 2008 interaksie met SANRAL gehad het oor die tol tariewe en die skema. Nogtans het hulle nie op daardie stadium, voor padwerke begin het, die hof genader om die tol projek te stop nie. Die hof was snydend oor Outa se bewering dat die e-tolstelsel padgebruikers ontwettiglik ontneem van hul eiendom, en bevind: “Ek het reeds beslis dat die GSVP skema wettig is en dat die verklaring tot tolpaaie nie op regsgronde hersienbaar is nie.”

Dit is hierdie uitspraak wat Duvenage na die appèlhof geneem het en waar hy weer verloor het. Volgens hom gaan dit oor ‘n “tegniese punt” maar dit was maar net een aspek van die hof se bevinding.

Met verwysing na die feit dat die besluit oor die GSVP tolpaaie reeds vyf jaar tevore geneem is, kom die hof tot die volgende slotsom: “Volgens alle aanduidings is hierdie opgegradeerde paaie van uitstaande gehalte (“truly magnificent”). Die voordele word hoofsaaklik geniet deur die motoriste van Gauteng maar dit bevorder die hele land se ekonomie. Dit kos egter R20-miljard. …. SANRAL is volgens kontrak verbind tot die onderhoud van die tolpaae met die veronderstelling dat dit uit die tolgeld verhaal sal word.”

Twee verdere sake sou volg. Eers het regter J Jansen van die Pretoriase hof ‘n dringende aansoek van die Tolhek Aksiegroep van die hand gewys en die aansoekers gelas om die koste te betaal. En in Maart vanjaar het die Kaapse Hooggeregshof, by monde van regter J Rogers, alle onduidelikheid oor die grondwetlikheid van die e-tolstelsel uit die weg geruim, na ‘n aansoek van die Demokratiese Alliansie.

Die hof se bevinding was dat die wetgewing wat gelei het tot die e-tolbesluitneming op ‘n wettige wyse en ingevolge die voorskrifte van Artikel 75 van die Grondwet geneem is.

Maar, na vyf uitsprake ten gunste van SANRAL, weier Duvenage steeds om die gesag van die howe te aanvaar en hou hy aan om burgerlike ongehoorsaamheid goed te praat. Hierby voeg hy vae en ongetoetste bewerings oor “onregmatighede” en sogenaamde “wangedrag.”

Mens sou verwag dat indien Duvenage en Outa oor bewyse van onreëlmatighede beskik het, dit al voor die howe sou gedien het, maar sulke getuienis is nooit gelei nie.

Outa geniet dit om die openbare mening op te sweep maar dit is nou duidelik dat hy nie die wet of die reg aan sy kant het nie. Outa het in die verlede aangetoon dat hul R13 miljoen vir hierdie hofsake moes insamel. Dit is nou tyd dat Outa aan sy ondersteuners en befondsers verduidelik waarom hulle aanhoudend geld in hierdie bodemlose put moet stort terwyl hofsaak na hofsaak verloor word. Nou hoop hul om nog R5 miljoen in te samel om die wettigheid van die projek waaroor reeds in die Hooggeregshof , Appelhof en Grondwetlike Hof beslis is, weer na die hof te neem.  Waarom sal dieselfde howe nou anders besluit?

Ongelukig het die hele debat rondom tol van die opgegradeerde paaie in Gauteng die fokus verskuif van waaroor dit werklik gaan, naamlik om ‘n funksionerende deurpadnetwerk vir Gauteng te skep wat ekonomiese groei en werkskepping bevorder. Die debat moet eerder gaan oor hoe befonds ons die konstruksie van die 150 km se nuwe deurpaaie wat die provinsie oor die volgende 15 jaar benodig. Ongelukkig is die vertragings en frustrasie wat motoriste daaglik beleef het voor die padopgradering nou reeds lank vergete.

Vusi Mona is die woorvoerder vir die SA Nasionale Padagentskap (SANRAL).